Die Lente is my seisoen.

Lente is nog altyd my gunsteling seisoen.

Wanneer die seisoene verander, verander my gemoed ook saam en die wat my ken sal weet waarvan ek praat.

Winter is verseker nie my seisoen nie, maar met Lente is dit anders, alles voel anders.

Herinneringe uit my verlede vat altyd vlam wanneer die reuk van nuwe bottende bloeisels my soos ‘n onverwagte  tsoenamie van agter af bliksem.

Snaaks genoeg het nie een van daardie die gunsteling herinneringe in die Lente seisoen gebeur nie. Soms dink ek die tor in my kop doen dit aspris om my net te herinner dat ek nie so emosieloos is soos ek meeste van die tyd voorgee wanneer dit winter is nie.

Elkgeval, wanneer die reuk van Lente my neusgate omhels word ek oorval met gedagtes van tye en gebeurtenisse wat ek nooit weer gaan sien of ervaar nie. Daar is selfs mense uit my verlede wat weer in my gedagtes dwaal wat ek beslis nooit weer gaan en kan sien nie. Dit bring ‘n gevoel van geluk gemeng met mismoedigheid saam – Om eerlik te wees weet ek nie regtig hoe om die gevoel te verduidelik nie.

Elke siel ervaar so gevoel heeltemal anders, so gaan asem die Lente lug in wanneer jy ‘n kans kry – jou gevoel daaraan is besonders.

Buiten ‘n ingroei toonnael of jou maermerrie stamp teen fokken enige iets. Daardie gevoel is pleinweg net dieselfde.

Die begin van Lente.

Die eerste reuk van Lente in die lug lei gewoonlik na my alleentyd toe waar ek terug sit op my balkon met ń paar yskoue biere.

Daar wens ek myself terug na daardie goeie tye toe. Daar is nie baie van daardie herinneringe nie, maar die wat ek wel koester sal ek  nooit  laat gaan nie.

Die eerste reuk van Lente is in die lug vannaand, maar hierdie keer  koester ek nie al die ou herinneringe van die begin af nie – my gedagtes dwaal na verlede jaar toe, verlede jaar se insidente met Judas, die plastiek stoel en  my geluk met die Hadida.

Die herinneringe wat die begin van Lente bring.

Dit was ń Vrydag middag en ek het nie soos gewoonlik saam met die manne kroeg toe gegaan nie. My brein was sif gewerk en my lyf het die nagevolge van ‘n harde dag se arbeid gedra. Die vars gebore bloeisels het sterk geruik en daardie einste gevoel van geluk en mismoedigheid het binne my gebroei.

My woonstel was gewoonlik die na-werk rusplek vir die eerste brandewyn van die naweek voor dit sou opeindig in kroeg iewers in die stad – of in ‘n ander dorp.

Gelukkig was daar nog niemand in sig nie, maar ek het nogsteeds soos ‘n dief in die nag teen die kompleks se muur af gesluip om enige kontak met die mensdom te vermy.

Ek wil alleen wees.

Suutjies het ek my voordeur bekruip om te ontsnap van die wêreld sodat ek kan terug sweef na my beste herinneringe. My ontsnapping van realiteit.

Min wetende was Judas, die buurvrou se onlangse kastreerde kat, besig om ń oorgewig muis te bekruip in dieselfde rigting waarin ek beweeg het.

Ek het agtertoe gekyk of ek enige drinkerbroers gewaar voor ek om die hoek wou glip, maar soos die duiwel dit wou hê het my nommer twaalf poot op Judas se stert beland.

My moed het in my skoene gesak omdat ek heel moontlik sy moord knoppie aktiveer het toe ek afkyk na die gespartel onder my voet. Om jou ‘n idee te gee – dit het geklink of hy weer kastreer word.

Die tor in my kop het ‘n plan beraam. Dit was immers ‘n saak van lewe of dood vir my.

Ek het nie ‘n plan gehad nie en het oorweeg om net daar te staan tot Judas moeg raak. Dit het sin gemaak omdat ek moontlik dieselfde operasie as hy sou ondergaan as hy daar los kom.

Judas het probeer los wriemel deur sy lyf vorentoe te trek, maar sonder sukses. Net daar het die tor in my kop aan ‘n bobaas plan beetgekry. As my tydsberekening reg en ek vining is, sou ek weg kom.

Dit was eenvoudig – ek moes net my voet lig wanneer Judas vorentoe trek met sy lyf.

‘n Paar minute het verby gegaan voor ek die moed gekry het om die plan in aksie te stel.

Judas het getrek en ek het my voet van sy stert af gelig. Momentum het die res gedoen en het vir Judas met ‘n boog binne in ń vullisdrom vas geskiet.

Voor ek kon lag het hy omgespring en reg gemaak om my aanteval. Gelukkig vir my het die muis tussen ons verby gehardloop en Judas het hom weer agterna gesit,

Sonder om te huiwer het ek omgedraai om huis toe hardloop voor Judas dalk van plan verander en my weer aanval, maar ek het my skoenveter vasgetrap en met ń paar bollemakiesies my voordeur kop eerste getref.

Daar het ek teen die deur gelê en my geluk  bevtaagteken omdat ek twee keer verantwoordelik was vir my amper-dood in ń paar minute.

Sak geluk ooit aan my kant wees?

My balkon stoep – My hartsplek.

Dit het skemer geraak en die tor in my kop het links en regs na ou herinneringe gegryp van verlange. Ek het sleepvoets yskas toe geloop en ses van my beste vriende uitgehaal. Beter vriende as dit kon jy nie kry nie omdat hulle altyd daar was wanneer ek hulle nodig gehad het. Nie een van hulle het ooit probeer raad gee of vrae gevra wanneer ek mismoedig voel nie, net in stilte geluister tot ek klaar gekla het.

Die vars bloeisel reuk het gemaak dat ek mense mis het wat ek ken, geken het en sommer ook mense wat ek nog nie ken nie.

Dalk kan meer mense die gevoel van verlange verstaan.

Herinneringe.

My gunsteling herinnering was my heel eerste idee van liefde. ‘n Meisie met die naam Mia.

Daardie tyd was ons elf of twaalf jaar oud as ek reg onthou.

‘n Tjokker soos ek gaan op daardie ouderdom verseker nie vir ń meisie se hy hou van haar nie. Die beste manier waarop ek haar probeer wys het was om haar te beledig op ‘n mooi manier en in ń boom te gaan sit soos ń stoute apie.

My eerste verlief wees.

Ons het honerde  kilometers van mekaar af gebly en elke vakansie het Mia by haar Oupa kom kuier wat net twee huise weg gebly het van ons huis af. Sy was die mooiste meisie wat ek nog ooit gesien het en as ek hoor Mia kom kuier het ek dadelik my ordentlikste broek, hemp en sommer skoene ook aangetrek. Skoene was ‘n groot ding daardie tyd omdat ek ‘n kaalvoet klonkie was op ‘n plaasdorp. Glo dit of nie, ek het ‘n bos hare ook gehad wat ek sommer self gekam het. My tande was ook geborsel uit vrye wil uit.

Die kroontjie op my kop was ń irritasie, maar met ń paar lekke oor my hand het ek dit weer platgekam en so het dit gebly vir die eerste uur.

Ons was altyd net goeie vriende, maar ek dink sy het eventueel van my ook gehou. Elke dag en het ons klomp avonture op die kettiekerk se grasperke en in die omtrek gehad.

Sug

My derde bier het gesneuwel en ek het na die bottel gekyk wat aandagtig luister. Die dinge wat ons as kinders kon doen was soveel makliker en veiliger. Kettie skiet, balgooi, deur die sproeiers hardloop sonder om varkgriep te kry en natuurlik die beste van alles – boomklim. Toevallig waar ek my manlikheid moes opoffer om deurbraak te maak.

Die boom.

Ek het ‘n bietjie windgat begin raak voor Mia en dit het haar aandag gekry.

Die einste boomklim eskapades het plaasgevind in ń spesifieke boom in ons buurman se erf. Hy was te semi-blind en te doof om agterkom ons was in die boom. Dit was ook veilig genoeg om nie hoë mure te bou en doring draad te span om ongewenste mense  uit jou erf te hou nie. Ons het sommer net ingeklim.

Deesdae as jy net na iemand se boom kyk word jy eers met n dubbelloop haelgeweer uitgehaal en dan word daar gevra wat jou motiewe met die boom was.

My boomklim vernuf was uitmuntig as kind, maar min het ek besef watter effek ‘n blonde meisie op jou brein kan hê. Ek het rond geklouter van tak tot tak en ń grappie of twee gemaak.

Een ding wat ek wel geleer het was dat as jy ń meisie kon laat lag, het jy klaar ń gedeelte van haar hart gewen.

Ongelukkig het my windmakkerigheid die beste van my gekry en ek het op ń dunner tak te lande gekom. Die tak het soos ń vuurhoutjie onder my geknak en ek het onder toe geval na ń dikker tak met ń baie dunner tak wat weer uit hom gegroei het. Ek het wydsbeen oor die takke te lande gekom en soos die duiwel dit wou hê, het die dunner tak my linker klinker teen die dikker tak vasgeknyp. Elke millimeter wat ek beweeg het, het dit vererger. Al wat ek kon doen was om dood te speel en om te val. My wind was moertoe, maar ek kon met ń fyn stemmetjie uitkry dat ek oukei was. Mia het so hard gelag dat sy ń haarself nat gepie het. Ek kon nie terug lag nie, al wou ek.

Van daar af het dinge net beter gegaan.

Bygesê, as jy nog nooit uit ń boom gedonner het nie, kan jy nie boom klim nie.

Verder deur die vakansie  was my naam permanent met ‘n plank geslaan en sy was ook nie veel beter nie.

As ek reg onthou het sy net so hard uit ń kleiner boom gedonner ń paar dae later.

Raai wie was daar om te troos? Die een wat net so hard uit die groter boom gedonner het.

As ń meisie saam met jou boom klim, trou met haar.

Saans het ons op die kettiekerk se grasperk gelê en sterre kyk. Daar was grappies gemaak en ons drome is met mekaar gedeel tot ons ouers geroep het om te gaan bad en slaap.

Ek het altyd met ń moerse glimlag op my hart gaan slaap.

Daar was nou nie juis selfone nie so ons kommunikasie was beperk tot wanneer sy kom kuier het.

ń Jaar se skoolvakansies later het alles verander…

Na my vierde bier het ek gemaklik op my plastiek stoel geraak en dit begin ry. Daar was ń kraak geluid, maar ek het dit ignoreer. Die goedkoop plastiek het mos maar so gemaak.

Mia het nooit meer kom kuier op vakansies nie. Dit was een van die ergste tye van my lewe en met baie moed en ‘n ontsnap roete het ek na haar oupa se huis toe om te gaan vrae vra.

Hy het my vertel dat sy en haar ouers Australia toe immegreer het. Daarna het hy my in die werk gesteek in se tuin.

My hart het in my skoene gesak en ek het begin grassny met my lip wat op die grond hang.

‘n Uur en drie voos gesnyde blombeddings later het haar oupa my in die pad af gejaag met sy belt.

Al waaraan ek kon dink was aan die mooiste meisie met die mooiste potblou oë en ‘n glimlag wat enige skoollaaitie kon laat bloos.

Dit is hoe ek haar altyd onthou het.
Ek het daardie selfde aand sommer vroeg gaan slaap en was net mooi lus vir fokkol die res van die vakansie nie.

Vandaaraf het ek nooit weer n woord van Mia af gehoor nie.

Die gedagte dat ek haar nooit ooit weer sou sien nie het my hart so effens gekraak en elke aand voor slaaptyd het ek op dieselfde gras kol gaan lê en sterre kyk , dieselfde bome gaan klim sonder om uit te val, maar niks was dieselfde nie.

Die gevoel en verlange het net verdwyn eventueel.

Jare later het vriende nogsteeds aangegaan dat ek haar op moet gaan soek en kontak probeer maak. Ek was te arm vir Australia, maar  hulle het eintlik bedoel om op sosiale media na haar te soek.

Nee, ek wou nie want dit sou nie meer dieselfde wees nie. Sy sou nie meer die Mia wees wat ek geken het nie en ek was bang dat een van my mooiste lente herinneringe sou verdwyn as ek enigsins sou kontak maak.

Dalk sou sy my nie eers onthou het nie.

Tog, het ek later op sosiale media gaan rondsoek.

My gevoel was reg, sy het my nie na tien jaar onthou nie.

Daar was baie ander herinneringe en mense, maar nie een was naastenby so spesiaal soos Mia se herinnering nie.

Terug realiteit toe.

Na my vyfde bier het ek my voete op die tafel gegooi, nogsteeds my plastiekstoel gery en myself uitgestrek. Ek het soos ń blinde meerkat wat ballas bak in die maanlig gelyk.

Die res van die aand was baie rustig.

Die sesde bier het geknak en net voor ek ‘n sluk kon vat het ‘n hadida sy moer afgeskrik vir iets wat veroorsaak het dat ek my moertoe skrik. Soos ek wip van skok het die stoel onder my ingegee en ek het so hard agteroor geval dat ek gehik het. Terwyl ek stringe vloekwoorde laat vaar en die hadida met my skoen probeer slinger, het die voël op my voorkop gekak en die donker in gevlieg.

Ek het terug gelê, te moeg gevloek en te getrek, om op te staan.

Die ou mense het mos altyd geglo dat dit goeie geluk was wanneer ń voëltjie op jou skouer skeit. Die een op my voorkop het seker jare se geluk vorentoe beteken, want die blerts was effens groter as jou normale mossie blerts.

Ek het my voorkop afgevee, die reuk van lente diep in my longe ingetrek en myself oortuig dat my geluk besig was om te draai – my bier het nie eers gemors in die val nie.

Kom ek wees dankbaar olifante kan nie vlieg nie.

‘n Laaste gedagte het deur my kop gesweef voor ek myself weer gemaklik gemak het op ‘n nuwe stoel.

Die lente is my seisoen vir een rede alleen, dit bring die mooiste en beste herinneringe terug na my toe.

Die einde.

One thought on “Die Lente is my seisoen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s