Mangriep

Dit is ‘n morbiede koue wintersoggend.

‘n Mislike wind huil om elke hoek en draai.

Die atmosfeer in my kamer is bedompig en die reuk van ‘n moontlike dood hang in die lug.

In my eensame koue bed – ‘n Manvretende virus het my platgetrek.

Die tor in my kop het vergeefs probeer om my kalm te hou op my sterfbed, maar dit was taak onmoontlik.

Almal wat my ken weet ek is ‘n moeilike mens en die dodelike virus wat ek nou ervaar gaan ‘n beer van ‘n man soos ek nie kan hanteer nie vir langer as ’n dag nie.

Daar is ‘n poespas van woorde wat in my kop rondsweef, maar nie ‘n enkele sin kan uitkom nie.

Vraag na vraag sweef deur my gedagtes – sonder  antwoorde.

Die intense pyn in my lyf maak dit moeilik om te fokus op enige iets, behalwe die seer.

Onbeantwoorde vrae.

  • Gaan ek more sien?
  • Is daar hoop vir my?
  • Hoekom moes die kak my tref?
  • Word ek nou gestraf vir my jarelange sondes?
  • Waar is my liefling Katrien?
  • Is my testament reg?
  • Het ek ooit ‘n testament?
  • Het Katrien al my hospitaal tas gepak?

Geen antwoorde vir hierdie vrae word gevind nie. Miskien is dit makliker om my lot te aanvaar as ek nie weet nie.

My oë is pofferig en ek is moontlik besig om blind te raak. My keel is aan die brand en voel of ek ‘n vuurwarm kool met kookwater afgesluk het. My neus loop onophoudelik en ek kan nie verstaan hoe my teer ligaam so baie snot kan produseer nie. Om dinge te vererger is my longe ook besig om in te gee. Elke beweging in my bed voel soos messe wat my ribbekas deurboor. Die kleinste hoesie bring ‘n ondraaglike pyn saam en die idee om Brooklax te drink steek vas in my kop. Dit mag dalk nie die pyn keer nie, maar ek gaan veseker te bang wees om te hoes.

Waar is Katrien in my tyd van nood?

Elke letter in haar naam het stadig en hakkelrig tussen my lippe ontsnap, maar na elke tweede letter moes ek vir minstens ‘n minuut stop om asem te haal.

Ek wonder of sy my ooit gaan hoor?

Dalk het sy besef ek is klaar in my moer en al begin met begrafnisreëlings?

Die kombers is swaar, so swaar dat dit voel of die doodsengel my vasdruk. Die krag in my liggaam is weg en ek probeer nie eers terugbaklei teen die kombers nie.

Die tor in my kop en my rebelse lyf werk ook nie saam nie. Vroeër wou ek op my linkersy  draai, maar my lyf het regs gedraai. Voor ek kon keer het ek my wind uitgeval op die harde koue vloer en net daar my maag gelê en bewe van die koue.

Die moontlike oorsaak.

As die buurvrou se verdomde kat Judas nie so maklik geskrik het vir alles nie, was ek nie besmet met hierdie ongeneesbare virus nie. Al wat ek gedoen het was om ‘n wind agter hom te breek.

Dit was ‘n wenner van wind wat ‘n leeu sou skaam maak.

Judas het vorentoe gespring en by die balkon afgedonner in die swembad in. Sy liggaam het in skok gegaan toe hy die koue water tref en het bodem toe gesink.

Daardie kak sou hom al sy nege lewens kos en ek was nie van plan om die oorsaak te wees nie. Ek het my klere afgepluk en ‘n aanloop gevat om ver genoeg te kan spring, maar my voet het aan die balkon reling vasgehaak en ek het vooroor geval. My maag het eerste die water getref, toe ek.

Judas was eerste prioriteit en die feit dat my rooi maag aan die brand was van die slag, was nie van toepassing nie.

Nadat ek mond-tot-mond asemhaling toegepas het, het ek met Judas onder my arm kombuis toe gehardloop om hom in die oond te druk op ‘n baie lae hitte sodat hy kon droog word voor iemand agterkom hy was in die eerste plek nat. Judas het sy naels in my arm geslaan en geklou soos nat kak aan ‘ n wolkombers. Ek het besluit om Katrien se haardroër eerder te gebruik.

Die resultaat was die dieselfde en die haardroër was moer toe.

Lang storie kort – hier fokken lê ek op die rand van die dood met ‘n virus wat al soveel mans geknak het.

Gisteraand kon ek nie behoorlik fokus toe Katrien se ouers vir ete gekom het nie. My kop het gepyn, my keel was droog en my oë het begin skeel trek nog voor ek aan my kos kon raak.

Die eerste hap het soos lemme in my keel afgegly.

Katrien het my soos ‘n beseerde soldaat bed toe gesleep voor ek moontlik flou kon raak. Sy en haar ma het onderlangs gegiggel en al wat ek kon uitmaak was die woorde “mangriep”en “aansit” onder hulle fluisterstemme. Haar pa het bekommerd gelyk en ek het dit oorweeg om hom eerder in my testament te sit.

Vroue kan hulle sterre dank hulle is immuun teen hierdie virus en ek is vas oortuig die rede daarvoor is dat hulle nie sterk genoeg sal wees om dit te kan hanteer nie.

Glad nie.

Malkoeisiekte moet erg genoeg wees.

Liefde.

Al wat ek kort is Katrien se liefde en volle aandag. Ek verwag dat sy my kop sal vryf wanneer ek op haar skoot lê, maar nee, ek word soos ‘n ou been eenkant gegooi om te vergaan van ellende.

Eintlik is ek kwaad vir haar en sal verkies dat sy op die bank slaap vir tyd en wyl nadat ek daardie onderlangse giggels gehoor het. Dalk kan sy net die bank langs die bed inskuif en ‘n bietjie verder weg slaap van my af. Dit is nie te sê omdat ek kwaad is vir haar dat ek nie haar liefde nodig het nie.

Sy het my gehoor.

Katrien het in die kamer ingekom met ‘n beker sop en eers vir my gelag voor sy my terug in die bed gehelp het. Sy het my skimp vir ‘n soen op my skurwe lippe van die hand gewys en eerder my voorkop gesoen. Ek het myself bejammer en oorweeg om terug te trek na my ma toe.

Terwyl ek my sop koud blaas, het ek ‘n nies ontwikkel wat ‘n klein tsoenami in die sop beker veroorsaak het. Die nies se impak die sop terug gespat in my gesig. Dit het die kak uit my gebrand en heel moontlik derdegraadse brandwonde veroorsaak.

Gelukkig het Katrien my weer gehelp, die rooi kolle in my gesig gedokter en my styf toegedraai in die kombers voor sy my spaargeld (wat nou haar erfgeld gaan word) in die winkels gaan blaas het.

Intussen….

Die virus het versprei en elke senuwee in my liggaam begin aantas. Elke orgaan ook.

My tyd moet seker naby wees en ek het besluit om vir almal wat ek leed aangedoen het jammer te sê deur dit op papier te sit.

Die jammer lysie.

  1. Ouma – Jammer oor die skoupampoen wat ek met ‘n gholfstok moertoe geslaan het. Ek het nog nooit so baie pampoen geëet Dit was ook nie die gatvelle werd wat Ouma na die gholfstok insident geskil het nie. Nogtans, jammer.
  2. Oupa – Jammer ek het oupa se glas water vervang met Die valstande het wel baie witter uit gekom. Weereens nie my gatvelle werd nie.
  3. Moeder – Jammer vir al die gryshare op so jong ouderdom met al die kak wat ek aangejaag Dit was wel elke geskilde gatvel werd. As Katrien enige spaargeld oorlos kan moeder die res kry, al moet julle baklei daarvoor.
  4. Katrien – Eerstens, ek vergewe jou vir die min aandag in my tyd van Daar is geld in die koffieblik onder die wasbak agter die strykyster wat jy ook erf om ‘n nuwe haardroër te koop.
  5. Katrien – Judas het jou haardroër.
  6. Dominee se eks-vrou (my buurvrou) – Mag die son altyd skyn waar jou wasgoed hang. Ek is glad nie jammer vir die ongerief wat ek ooit veroorsaak in jou lewe

My hand het ‘n kramp gekry en ek het besluit om daar te stop. My tyd hier is min en ek moet die bietjie energie wat ek nog het spaar.

Minute later het ek ingesluimer.

Ek het onophoudelik gedroom dat my paspoort hemel toe verval.

Judas – my vyand.

‘n Aardige slurp geluid het my wakker gemaak. My een oog het swaar oopgegaan en ek het in twee ronde knatertjies vasgekyk. Judas was besig om my sop te eet en die woede het my oorval. Met baie moeite kon ek my arm lig om my sop te probeer terugvat. Hy het in my rigting gekap met vlymskerp naels, maar te stadig en ek het hom met my wysvinger op sy knaters geskiet.

Judas het omgespring, my op my neus gekrap en by die skuifdeur uitgehardloop. Instinktief het ek opgespring om hom te jaag, maar verstrengel geraak in die lakens, balans verloor en kop eerste in die skuifdeur vasgebliksem.

Uit soos n kers…

Drie dae later.

Die getjirp van voëls het my wakker gemaak en na ‘n paar minute van dink, ledemate beweeg en normale asemhaling het ek met ‘n lied in my hart opgestaan om vir Katrien te gaan soek.

Sy was in die kombuis besig met ontbyt en ek het haar net daar plat getekkel, oorval met soene en ‘n lek oor haar wang. Sy het my aan my oor getrek en gesê ek moet maniere kry.

Nadat sy my vertel het hoe sy na my omgesien het deur al die snot, harsingskudde, trane en oordrywery het ek besluit sy praat snert en oordryf beslis. Ek het alles ontken en eerder vir Judas gaan soek om te kyk of hy nog oraait is na sy kanter insident.

Buite op die balkon het Judas ‘n ligte beroerte gekry toe hy my sien en onder die braaier gaan wegkruip om sy knaters te lek.

En Katrien dink ek oordryf?

Ek het op ‘n stoel gaan sit en my voete op die tafel gegooi en myself lui uitgestrek.

Daar was nie veel van die virus wat ek onthou het nie, behalwe dat ek een voet en ‘n arm in die graf gehad het.

Die pyn en lyding sal my altyd by bly.

Al wat ek weet is dat ek genees is van swembaddens en Judas se nege lewens spaar.

Die laaste gedagte het deur my gedagtes gesweef – ek het iets deur gemaak wat soveel mans geknak het. My sterk imuunstelsel en kanniedood persoonlikheid het my lewe gered.

Met die breedste glimlag op my bakkies het ek my hande agter my kop ingeskuif en na die wolke gestaar.

’n Sug van verligting het my oorval….

Ek is ‘n trotse mangriep oorlewende.

Die einde.

©Etienne du Bruyn

One thought on “Mangriep

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s