Onthou jy nog jou eerste verlief?

Party dink seker terug en wonder of hulle nie net simpel was of net sooibrand gehad het nie.

Iets in daardie rigting.

Innige simpatie met jou aaklige ondervinding. Sooibrand is ‘n teef.

Elkgeval.

Ek onthou my eerste verlief baie goed. Die sny in my lies laat my nou en dan terug dink daaraan.

Die jaar was 1997.

Die tjokker lewe.

Die tyd waar ons kon kaalvoet skool toe gaan sonder om bekommerd te wees dat ons op ‘n gebruikte kondoom of iemand se vuil gebruikte inspuiting gaan trap en vrek.

Varkgriep was nog daardie tyd gesien as net ‘n vark wat nies.

My pere het nog nie eers gesak nie, maar die blouoog meisie het my maag die ene vlinders gehad wanneer ek hoor sy kom kuier by haar Oupa in die vakansies.

Haar Oupa het nooit van my gehou nie. Ons het teveel geskiedenis gehad met perskes en appelkose wat ek nou en dan daar in sy erf gaan steel het en daar was ook die ander onheilighede wat ek aangejaag het.

Al wat ek sê is dat kleilat gooi nie net ‘n boeresport was daardie tyd nie.

Haar Oupa het al meer as eenkeer op my geskiet met sy antieke windbuks en my al rond gejaag met my eie kleilat.

Hy het gelukkig altyd mis geskiet, maar nooit mis geslaan mrt daardie einste kleilat nie.

Lyfstraf was nog heeltemal wettig in 1997 en ek moes maar sak vir ‘n hou of tien.

Hy het selfs my ma se goedkeuring gehad.

Hy het my verdra wanneer sy kleindogter kom kuier.

Ek is seker daarvan sy het hom oortuig met haar pragtige glimlag en verseker daardie blou oë van haar. Al was dit net cir die vakansie.

Hy sou my elkgeval weer probeer vermoor het wanneer die vakansie verby was.

Daar was ook slawerny betrokke.

Ek moes’n week voor die vakansie gatkruip by haar Oupa deur gras te sny en tuinwerk te doen.

Nie dat ek gekla het nie.

Ek het mos trou motiewe gehad met sy kleindogter wanneer ek groot is en hy my nie teen daardientyd al raak geskiet het nie.

As ek hoor sy kom het ek sonder ‘n stryery gebad, tande geborsel, my kroontjie plat gekam met ‘n natgelekde hand en my mooiste klere wat ek net na familie funksies toe aantrek, uitgegrou.

Die een spesifieke dag het sy ekstra mooi gelyk en ek het natuurlik soos ‘n normale skoolseun opgetree. Boomklim was op die agenda en ek my beste standerd vyf grappies uitgehaal.

My Ouma het mos altyd gesê as jy ‘n meisie kan laat lag is jy halfpad by die deur in na haar hart toe.

Net jammer sy het so gelag dat sy haar broek nat gepiepie het.

Nie oor my grappies my, maar omdat ek uit die boom uit gedonner het en my wind uitgeval het.

Sy het gerol soos sy lag.

Ek het nie.

Ek het geskarrel om aan die lewe te bly.

Gelukkig het my pere nog nie gesak nie, want ek het ‘n paar takke getref, waar hulle moes wees, onder toe.

Dit was gou weer vergete.

Verlief wees was lekker.

Ons het laatnagte op die grasperk gelê en drome bespreek.

Daar was ‘n arm lengte spasie tussen ons, want ek was mos skaam seun en ek het haar Oupa fokkol vertrou nie. Veral nie wanneer ek hom nie kon sien nie.

Die antieke windbuks het altyd in my gedagtes gesweef wanneer sy naby my was.

Daardie verlief het vir twee jaar aangehou totdat sy nie meer kom kuier het nie.

Elke vakansie daarna het ek soos ‘n mak meerkat op die muur gesit en wag tot haar Oupa my verjaag het. Die laaste keer het my broek vasgehak voor ek kon afspring om te hardloop. Ek het vooroor geval en my lies het ‘n lelike sny gekry van ‘n stuk bloudraad af.

Ek het gedink ek gaan dood.

Gelukkig het haar Ouma my lewe kom red en my alles vertel oor hoekom sy nie meer kom kuier het nie.

As haar Oupa nie die kommunikasie vaardighede van ‘n baksteen gehad het nie, sou ek geweet het dat sy kleindogter nie meer gaan kom kuier nie.

Haar ouers het besluit hulle gaan Australia toe.

Permanent.

My hart was effens seer. My lies was baie seer en my brein was moertoe seer oor al die dinkery van hoe lank dit my sou vat om Australia toe te loop en ook wat ek vir my ma gaan sê hoekom ek nou gaan trek. Sy sou moontlik nie ja gesê het nie, want ek is haar mooiste kind tot vandag toe nog.

My ma sou my mis.

Lang storie kort.

Ek het ‘n volle dag getreur daaroor voor ek weer met my kwattekwaad begin het.

Vakansietye het ek gewoonlik die eerste dag of twee verlang voor ek weer die gewone vakansie kaskenades aangepak het.

Soms het ek gewonder of sy aan my ook dink.

Ek wonder nog altyd hoe dit met haar gaan, maar ek sal nie durf om haar te probeer opspoor nie.

‘n Ander aksent gaan haar nie pas nie en die idee van ‘n uitlander gaan nie dieselfde effek op my hê nie.

Daardie eerste verlief gevoel is hoe ek haar altyd gaan en wil onthou.

#verliefweesislekker #perehetgesak #braaivoorbbq #myliesdradieletsels

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s